Home | About the author | Contact
...................................................
PeetVS logo

Science and Mathematics animations / games / simulations

Tennis

Photography

Crafts

Stereoscopy

Literary work ( in Afrikaans )

General

ORDER CD You can get all the animations on this website on a CD for $55. Contact me at: Peet.vanSchalkwyk@nwu.ac.za

If nothing shows up, you need the newest Flash player to view the animations / simulations. Get a free Flash player at: www.adobe.com/products/flashplayer/ , press "download" and follow the instructions.


Location : Home > Literary work > Short stories
.................................................................................................................................

Maak Vol Asseblief

Submitted By: peet
Date Submitted: 7/31/2006 9:14 am
Status: Approved
Views: 826
Next Submission»
Search
Return To Submissions List

Maak vol asseblief

   Net die leë plastiek koeldrankbottel staan op die rak - met ‘n klein bietjie petrol in. Ek en die bottel staan vir mekaar en kyk, hy staan maar net op die rak, maar ek staan met ‘n magtelose gevoel, teleurgesteld, want ek sorg so mooi vir die kinders en kyk wat gebeur nou. Die werklikheid is: dit help nie om ‘n bottel petrol in die garage aan te hou nie want iemand kry dit nodig en niemand hervul dit nie, en nou staan ek met my hande in my hare. Ek skop ‘n boks dat hy doer trek, stap ‘n keer in die rondte en gaan staan weer voor die leë bottel. 

   “Deksels!!” en ek vat die bottel. Nou moet ek maar met die fiets gaan petrol haal en ek is so haastig.

   Ek het net gou iets by die huis kom haal toe die kar sonder petrol gaan staan – gelukkig naby die huis en “gelukkig” is daar mos ‘n bottel petrol in die garage!

   Met die bottel agter op die drarak, trap ek die fiets dat hy kraak onder my aanslag. Maar die 2 kilometer pad petrolstasie toe is so mooi, dis tussen lowergroen akkerbome deur en ‘n koel luggie waai oor my natgeswete gesig– ek is sommer gou weer rustig en kry lag vir myself. Mens moet maar net kalm bly en so gou moontlik die probleem oplos. En mens moet ook maar betyds petrol in die kar gooi, alhoewel; ek nie die enigste is wat die kar gebruik nie. Met twee platsak studentekinders in die huis moet ‘n mens maar sorgsaam en verdraagsaam wees.

   Uiteindelik rys die naambord van die vulstasie uit agter die dakke van die huise. Vulstasies en pompjoggies; dis ’n kultuur op sy eie – die dienslewering is uniek. Waar elders kry jy so ’n spontane, oorywerige, vriendelike diens? Nie by die poskantoor nie, ook nie by banke nie en nog minder by die munisipaliteite. By baie vulstasies is daar altyd iemand wat waai, fluit en wys: trek hier in! En sodra die petrol tap, maak hulle jou voorruit skoon. Maar hierdie spontaniteit maak hulle ook kwesbaar vir grappies...

   By die vulstasie trek ek die fiets langs ‘n petrolpomp in.

   “Kan ek help?” vra die vriendelike pompjoggie.

   “Maak vol asseblief,” sê ek ernstig en ek wys met my kop na die bottel op die drarak. Ek stoot my bril reg en bly sit op my fiets, net soos iemand wat te belangrik is om by ’n vulstasie uit sy motor te klim.

   Die pompjoggie staan ‘n rukkie stil, kyk my aan, en vat toe die bottel, draai die prop af en vra net so ernstig: “Hoe is die water en olie meneer?” 

   Terwyl hy die bottel vul sê ek: “Nee hulle is nog reg dankie, ek het gecheck” en ek hou my houding.

  Doodstil wag ons totdat die bottel vol is.

   Hy draai die prop op.

   Toe roep hy ‘n ander pompjoggie: “Elias, kom help gou hier!”

   En toe wen hy my met: “Kom maak gou die meneer se windscreen skoon!”




Home | Virtual lab · Literary work · Photography · Crafts · Tips for everyday life · About the author · test · Gyroscope Power Stations · Global warming
User: Visitor