|
SKIETPOORT
amper daar
Wasig blou agter die horison
troon die Kareeberge, majestueus.
’n Gompou skrik en sweef laag
oor die Karoovlakte, grasieus.
Oor die pan vol lugspieëlwater
stofdans ’n dwarrelwind.
Die water bly ontwykend ver;
wat sal ek aan die anderkant vind?
Die laaste hek op die kronkelpad
staan fier by die berg se punt.
Dynserig ver by die opstal,
trek ’n langstreeprokie in die wind.
aangekom
Tyd het die murasie stukkend gebyt;
die mure is tot hopies verweer.
’n Rolbos nestel teen die koelkamer;
’n Geitjie skarrel deur ’n skeur.
Op die koolstoof in die kombuis
het die ketel eens gefluit.
Uit die oond het die geur gekom
van varsgebakte anysbeskuit.
By die voordeur was ’n kapstok,
en portrette in die gang.
In die sitkamer het versierings
aan ’n kersboom gehang.
Omring het die draadloos, luid,
die aandstorie uitgesaai.
Om en om het die prentjiehond
op die grammofoon gedraai.
In die buitekamer is gekuier -
mekaar met speletjies verslaan.
Tussen die tuie in die waenhuis
het Oupa se ’38-Chev gestaan.
buite
Genadeloos kasty die somerson
alles wat in die Karoo kan hou.
Onder die kapkar op die werf
het ’n bokram lę en kou.
Die dolosse op die ashoop
lę uitgespan - verlore, vertrap.
Beur, - as die karookind
’n granaatbosswepie laat klap.
doer
In die veld het ek ’n ystervarkpen
langs ’n gannabos opgetel.
En ’n skilpad het met kieriepas
verby ’n kanniedood gesnel.
Die eland staan daar statig, dof,
op die rotstekening by die krans.
By hul klipkraal het die aardwolf
nog die Boesmans sien dans.
lafenis
Blitsende wolke kom bulderend aan;
sak woedend oor die vlaktes uit.
Onstuimige waters galop oor bossies
en vloei dan kolkend in die spruit.
verby
Kwashale tint die skemer tot nag –
vol helder sterre, winkend daarbo.
In die nagstilte voel ’n mens
die verlatenheid van die Karoo.
By die berg tjank ’n jakkals
waar skape in ’n takkraal skuil.
By ’n miershoop vroetel ’n erdvark
en op die damwal tuur ’n uil.
Volmaan oor die berg;
silhoeët van die windpomp, alleen…
In die groentetuin was hase -
nou deur bossies oorgeneem.
Peet van Schalkwyk 2003
mgipvs@puk.ac.za
082 6686835
Opgedra aan: Pat en Aletta van Wyk,
van Skietpoort.
|